Waar was Daniël
Kliek hier om PDF weergawe af te laai
Historiese Agtergrond in die Boek Daniël
Die verhale en visioene van die boek Daniël speel af teen die agtergrond van die ballingskap van Juda in Babel. Die eerste verhaal in die boek plaas die gebeure in die derde regeringsjaar van Jojakim d.w.s. 605 vC.
Dan 1:1 “IN die derde jaar van die regering van Jójakim, die koning van Juda, het Nebukadnésar, die koning van Babel, na Jerusalem gekom en dit beleër.”
Die handel oor die verhaal van ‘n Joodse balling, Daniël en sy drie vriende, Sadrag, Mesag en Abednégo, wat weggevoer is om in die hof van koning Nebukadnésar te dien.
Die Hebreeuse name vir Sadrag, Mesag en Abednégo is Hanánja, Mísael en Asárja onderskeidelik.
Hierdie manne was uit die stam van Juda wat in ballingskap na Babel weggevoer is. Hulle oorspronklike Hebreeuse name, wat die God van Israel vereer het, is deur die hoofamptenaar van koning Nebukadnésar verander na Babiloniese name wat verwys na heidense gode in ‘n poging om hulle in die Babiloniese kultuur te assimileer.
Die historiese agtergrond sluit die heerskappy van Babilon in, wat baie Israeliete in ballingskap gebring het. Daniël interpreteer drome en ontvang goddelike visioene.
Die ballingskap van Daniël was een van die Here se voorsienings wat waarskynlik die Jode se lot in ballingskap versag het, aangesien Daniël uiteindelik vir jare in diens van die onderskeie konings van Babel was. Daniël is in dié opsig baie soos Josef van lank gelede wat weggevoer is deur die Midianiete na Egipte om vir die familie van Jakob ’n uitkoms in die tyd van hongersnood te bring. God se soewereiniteit oor aardse koninkryke word getoon deur Daniël se standvastige geloof te midde van beproewings, soos die leeukuil, en deur sy profetiese openbarings oor toekomstige ryke en die koms van God se ewige koninkryk.
Wat weet ons van Daniël?
Al wat ons van Daniël se lewe voor Babel weet, is dat hy ’n baie jong (tiener) Judeër was van adellike of koninklike afkoms. Hy moes ’n goeie opvoeding gehad het en onder die vername mense uit Jerusalem getel het want die koning se voorskrifte vir die seleksie van jongmanne was van hoogstaande gehalte. Hy is saam met ander jong manne in ballingskap na Babilon geneem deur koning Nebukadnésar. Dan 1:4 “jong seuns aan wie geen enkele liggaamsgebrek was nie, maar wat mooi van aansien was en vernuftig in allerhande wysheid en in besit van kennis en insig in wetenskap, en wat bekwaam was om in die paleis van die koning te dien; en om hulle die skrif en die taal van die Chaldeërs te leer.”
Daniël was baie jonk toe hy ontvoer is, en leef tot in sy 80 ’s of 90 ’s, want hy is nog aktief onder Kores van Persië, ±70 jaar ná die ballingskap begin.
Vroeë manuskripte wat onder die Dooie See-rolle ontdek is, bevestig die betroubaarheid van die teks van Daniël en ondersteun besonderhede wat ooreenstem met Babiloniese geskiedenis.
Daniël word geteken as wys, getrou, vroom, onberispelik en iemand met integriteit. Hy het volhard in gebed. Hy het ‘n verbintenis aan God. Die hele boek bevestig dit.
Daniël weier om homself te verontreinig met Babilon se kos wat ’n teken is van sy getrouheid aan die Torah. Dan 1:8 – “En Daniël het hom voorgeneem om hom nie te verontreinig met die spys van die koning of met die wyn wat hy gedrink het nie; daarom het hy die owerste van die hofdienaars vergunning gevra dat hy hom nie hoef te verontreinig nie.”
Daniel bid drie maal per dag gebid. Dan 6:11 – “En net toe Daniël verneem dat die bevelskrif geskrywe was, het hy in sy huis gegaan; en hy het in sy bo-kamer vensters gehad wat oop was in die rigting van
Jerusalem, en hy het drie maal op ‘n dag op sy knieë geval en gebid en lofprysinge uitgespreek voor sy God, net soos hy tevore gedoen het. Hy het nooit kompromieë gemaak met afgodedienste nie.
Daniël het in die volgende opeenvolgende ryke hoë posisies in die regering beklee: Babilon (Nebukadnésar en Belsasar) en Medië-Perse (Darius en Kores). Dan 6:4 – “Toe het hierdie Daniël bo die ministers en die landvoogde uitgemunt, omdat ‘n voortreflike gees in hom was; daarom was die koning van plan om hom oor die hele koninkryk aan te stel.
Hy was ’n raadgewer, ’n insiggewende uitlegger van drome en ’n minister / goewerneur. Dan. 2:48 – “Toe het die koning Daniël verhef en hom baie, groot geskenke gegee en hom aangestel as heerser oor die hele provinsie Babel en as hoofowerste oor al die wyse manne van Babel.” en Dan 6:1-3 – “Daniël in die leeukuil. 1 EN Daríus, die Meder, was twee-en-sestig jaar oud toe hy die koningskap ontvang het. 2 Dit het Daríus behaag om oor die koninkryk honderd-en-twintig landvoogde aan te stel wat in die hele koninkryk sou wees; 3 en oor hulle drie ministers, van wie Daniël een was, aan wie dié landvoogde rekenskap moes gee, sodat die koning nie sou skade ly nie.”
Daniël se 3 vriende, Hananía, Mísael, Asaría (Shadrag, Mesag, Abednego) was mede-ballinge uit Juda en het saam met hom voor God gestaan en saam gebid. Dan 2:17–18 – “17 Toe gaan Daniël na sy huis en maak aan Hanánja, Mísael en Asárja, sy metgeselle, die saak bekend, 18 en dat hulle barmhartigheid van die God van die hemel moes afsmeek oor hierdie geheim, sodat hulle Daniël en sy metgeselle saam met die orige wyse manne van Babel nie sou ombring nie.”
Daniel was vol van profesieë en visioene wat God hom gegee het. Hy was ’n man wat God se openbarings kon verstaan. Dan 10:12 – “Toe sê hy vir my: Wees nie bevrees nie, Daniël; want van die eerste dag af dat jy jou hart daarop gerig het om ag te gee en jou voor die aangesig van jou God te verootmoedig, is jou woorde gehoor, en om jou woorde ontwil het ek gekom;” en Dan 1:17 – “En hierdie vier jong seuns — God het aan hulle wetenskap en verstand in allerhande geskrifte en wysheid gegee; ook het Daniël verstand gehad van allerhande gesigte en drome.”
Die engel noem hom ’n man wat baie geliefd is. Dan 9:23 – “By die begin van jou smekinge het ‘n woord uitgegaan, en ek het gekom om dit mee te deel, want jy is ‘n geliefde man; gee dan ag op die woord en verstaan die gesig.” Dan 10:11&19 – “11 En hy het vir my gesê: Daniël, geliefde man, gee ag op die woorde wat ek met jou spreek, en gaan staan op jou staanplek, want ek is nou na jou gestuur. En terwyl hy hierdie woord met my spreek, het ek bewende gaan staan. 19 en gesê: Wees nie bevrees nie, geliefde man, vrede vir jou, wees sterk, ja, sterk! En terwyl hy met my spreek, het ek moed geskep en gesê: My heer kan maar spreek, want u het my versterk.”
Daniël vra wat is die uiteinde. Hy sê Daniël sal rus en weer opstaan tot sy bestemming aan die einde van die dae. God het vir hom ‘n werk na sy dood. Die dag wanneer die Here hom uit die graf uit opwek wag daar vir hom groot werk in God se koninkryk.
ONGELOOFLIK, dat ‘n engel voor jou dood vir jou kom sê hulle gaan jou begrawe en jy sal opstaan uit die dood want jy het groot werk in die verre toekoms wat God vir jou bestem het, maar vir nou kan jy gaan rus Dan 12:13 – “En jy, gaan heen na die einde; en jy sal rus en weer opstaan tot jou bestemming aan die einde van die dae.
Daniël wys ‘n mens hoe om in ‘n verleidelike wêreld standvastig en getrou aan God te bly. Asook hoe God werk deur só ‘n lojale dienskneg om Sy wil vir sy volk en die wêreld deur te voer. Ons gaan ook diep nadink oor hoe ons God se wil vir die lewe kan onderskei.
Soos Daniël, is gelowiges vandag “grootliks geliefd” deur hul hemelse Vader (Joh 3:16; 1 Joh 3:1). Hy wil hê ons moet Sy Woord verstaan. God het egter nie ‘n engel na gelowiges gestuur nie. In plaas daarvan het Hy aan ons die Heilige Gees gegee (Joh 14:16–17; Rom 8:14–16; 1 Kor 2:10–16; Efe 1:13–14, 17–18).
Jesus het belowe: “Die Helper, die Heilige Gees, wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle alles leer en sal julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het” (Joh 14:26). Daniel leer ons hoe om vreesloos te leef, hoe om deur moeilike tye te kom, maar bowenal hoe kan leer hoe om onwrikbare vertroue in God te hê. Die God van Daniël is vandag steeds in beheer van die lewe van dié wat in alle omstandighede aan Hom getrou bly.
Wat ons nie van Daniel weet nie is: hoe sy ouers was, was Daniël getroud en waar presies het hy gesterf. Die Bybel fokus op sy geloof, sy karakter en sy roeping, nie sy persoonlike lewe nie.
KONING NEBUKADNÉSAR SE GOUE BEELD

Nebukadnésar besluit om ‘n goue beeld van homself op te rig omdat Daniël hom vertel het dat die God van die hemel sy kop as goud gesien het. Hy skep daarmee ’n simbool van sy universele mag waaraan hy goddelike eienskappe koppel deur van almal te verwag om daarvoor neer te buig en dit te aanbid.
In sy grootheidswaan besluit hy om die hele liggaam van die beeld ook van goud te maak. Hy wou ook sy koninkryk uitbeeld, die heel eerste heidense koninkryk. Die beeld is van suiwer goud en bykans 30 meter hoog en 6 meter breed. Die beeld was omtrent so hoog soos ‘n moderne agtverdiepinggebou.
Hy rig die beeld op in die dal Dura, wat geleë is in die hedendaagse Irak, in die provinsie Babel. Hy het seker gemaak dat die beeld nie naby die manjifieke paleis en naby die stad Babel opgerig word nie, want die beeld moes van vêr af gesien word en die mooi tuine sou die mense se aandag aftrek.
Nebukadnésar is ongetwyfeld deur sy droom van die groot beeld geïnspireer om hierdie beeld te laat maak. Sy doel hiermee was eerstens om homself te verheerlik en sy oppergesag in die hele wêreld op ‘n dramatiese manier te demonstreer. Tweedens wou hy sy koninkryk verewig sodat dit nooit deur ander koninkryke verower en vervang sou word nie. Dit is waarom hy die hele beeld van goud laat maak het, en nie net die kop soos die beeld in sy droom nie. Derdens wou hy die Babiloniese godsdiens op alle volke afdwing en daarvan ‘n wêreldgodsdiens maak.
Dan 3:1 “KONING Nebukadnésar het ‘n beeld van goud gemaak; sy hoogte was sestig el, sy breedte ses el; hy het dit opgerig in die dal Dura, in die provinsie Babel.”
Dit skep ’n geleentheid vir sekere jaloerse Chaldeërs om die drie vriende van Daniël in oneer te probeer bring. Vol van bravade oor sy eie mag vra Nebukadnésar dan die drie vriende om te buig voor sy beeld, want watter god sal julle uit sy my mag kan red? Afgevaardigdes van al die volke uit sy ryksgebied het ‘n byeenkoms in die dal Dura bygewoon, waar hulle verplig was om die beeld te aanbid. By hierdie geleentheid het die goewerneurs, raadsmanne, skatmeesters, regters en hoofamptenare van sy koninkryk, asook die bestuurders van die provinsies, uitgeroep. Dan 3:3 “Toe het die landvoogde, die bevelhebbers en die goewerneurs, die raadsmanne, die skatmeesters, die regters, die hoofamptenare
en al die bestuurders van die provinsies bymekaargekom by die inwyding van die beeld wat koning Nebukadnésar opgerig het, en hulle het voor die beeld gaan staan wat Nebukadnésar opgerig het.”
Koning Nebukadnésar se bevel was duidelik bedoel vir almal, sonder uitsondering; almal binne gehoorsafstand van die musiek moes buig en die koning se beeld aanbid. Dan 3:4&5 – “4 En ‘n uitroeper het hardop geroep: Julle word aangesê, o volke, nasies en tale, 5 sodra julle die geluid hoor van horing, fluit, siter, luit, harp, doedelsak en van allerhande musiekinstrumente, moet julle neerval en die goue beeld aanbid wat koning Nebukadnésar opgerig het.”
Die feit dat die amptenare nie net beveel is om voor die beeld neer te val nie, maar dit ook te aanbid, dui daarop dat die beeld sowel politieke as godsdienstige betekenis gehad het. Aangesien geen spesifieke god genoem is nie, kan die gevolgtrekking gemaak word dat Nebukadnésar nie een van Babel se gode vereer het nie, maar met die aanbidding van die beeld die grondslag vir ‘n nuwe vorm van godsdienstige verering gelê het. Nebukadnésar se doel was om ‘n verenigde koninkryk en ‘n verenigde godsdiens daar te stel. Die koning was die hoof van die staat én ook die hoof van die Babiloniese godsdiens. Alle mense, en spesifiek ook al die amptenare in sy regering, moes sy politieke en godsdienstige gesag erken. Die teenwoordigheid van die koning, die grootsheid van die geleentheid, die indrukwekkendheid van die beeld, die formele aard van die aankondiging, asook die emosies wat deur die musiek geskep is, het alles daartoe bygedra dat die hele regering en al die verteenwoordigers van ander volke sonder enige teëspraak neergeval en die beeld aanbid het. Hulle is deur ‘n gevoel van patriotisme en blinde lojaliteit teenoor die koning vervul, en was selfs bereid om hom as ‘n god te aanbid wat vir ewig lewe. Hulle het dit spontaan onder die krag van misleiding gedoen, eerder as dat hulle deur die brandende vuuroond van die koning se bevele afgeskrik is. Dan 3:6,7 & 11 “6 En hy wat nie neerval en aanbid nie, sal op die daad binne-in die brandende vuuroond gegooi word. 7 Daarom het, op die oomblik toe al die volke die geluid van horing, fluit, siter, luit, harp en van allerhande musiekinstrumente hoor, al die volke, nasies en tale neergeval en die goue beeld aanbid wat koning Nebukadnésar opgerig het. 11 en dat hy wat nie neerval en aanbid nie, binne-in die brandende vuuroond gegooi moet word.”
Reaksie van die drie vriende
Die drie vriende knip egter amper nie ’n oog nie en sê dat hulle nie eers ’n antwoord aan Nebukadnésar verskuldig is nie. Hulle het hul God wat hul dien en Hy het die mag om hulle te red van die kwaad wat hulle aangedoen kan word, omdat hulle aan Hom getrou wil bly. Hulle weet hulle verteenwoordig die volk van God; skyngehoorsaamheid sou God onteer. Hulle wéét hulle kan nie die God van die hemel bedrieg nie. Hulle is bereid om die marteldood te sterf, as dit God se wil sou wees. Hul keuse is ware gehoorsaamheid aan God se Woord. God se Woord is duidelik: hulle mag nie afgode aanbid nie. Op grond van die Skrif neem hulle die besluit om te sterf eerder as om te buig.
Daar was sekerlik baie verskonings wat hulle kon aanbied om tóg maar een keer voor die beeld neer te buig: Hulle is nie gevra om hulle God of godsdiens af te lê nie, maar slegs om te buig en die beeld te aanbid; hulle is hiertoe gedwing en kon die skuld op die koning pak; Nebukadnésar was hulle weldoener en miskien kon hulle hom maar die eer gee wat hom toekom; hulle was baie ver van hulle vaderland met sy wette en gebruike verwyder, ens. Vir hulle was daar egter net een oorweging wat van belang was, en dit is dat die eer van God ten alle koste en onder alle omstandighede beskerm moes word. Hulle het gevolglik geweier om neer te buig en die beeld te aanbid, en is onmiddellik by die koning aangekla.
Nebukadnésar was woedend en sê dat as hulle, sodra hulle die geluid van horing, fluit, siter, luit, harp en doedelsak en van allerhande musiekinstrumente hoor, bereid is om neer te val en die beeld wat hy gemaak het, te aanbid, aanbid, dan is hulle gespaar, maar as hulle nie aanbid nie, sal hulle oombliklik binne-in die brandende vuuroond gegooi word, en wie is die God wat julle uit my hand kan verlos? Dan 3:15 “en wie is die God wat julle uit my hand kan verlos?”
Sadrag, Mesag en Abednégo het geantwoord en aan koning Nebukadnésar gesê: Ons ag dit nie nodig om u hierop ‘n antwoord te gee nie. As onse God wat ons dien, in staat is om ons te verlos, dan sal Hy ons uit die brandende vuuroond en uit u hand, o koning, verlos; maar so nie, laat dit u dan bekend wees, o koning, dat ons u gode nie sal dien nie en die goue beeld wat u opgerig het, nie sal aanbid nie. Dan 3:16&17 “16 Sadrag, Mesag en Abednégo het geantwoord en aan koning Nebukadnésar
gesê: Ons ag dit nie nodig om u hierop ‘n antwoord te gee nie. 17 As onse God wat ons dien, in staat is om ons te verlos, dan sal Hy ons uit die brandende vuuroond en uit u hand, o koning, verlos;”
Toe het Nebukadnésar baie woedend geword en het bevel gegee om die oond sewe maal warmer te maak as wat eintlik nodig was. En aan sommige van die sterkste manne wat in sy leër was, het hy bevel gegee om Sadrag, Mesag en Abednégo te boei, om hulle in die brandende vuuroond te gooi. Toe is daardie manne geboei met hulle mantels, hulle broeke en hulle tulbande en hulle ander klere aan, en hulle is binne-in die brandende vuuroond gegooi. Omdat dan nou die woord van die koning streng en die oond uitermate verhit was, het die vlam van die vuur daardie manne wat Sadrag, Mesag en Abednégo opgeneem het, doodgebrand. Dan 3:22 “Omdat dan nou die woord van die koning streng en die oond uitermate verhit was, het die vlam van die vuur daardie manne wat Sadrag, Mesag en Abednégo opgeneem het, doodgebrand.”
Toe het koning Nebukadnésar verskrik geword en haastig opgestaan; hy het sy raadsmanne toegespreek en gesê: Dan 3:24 “Toe het koning Nebukadnésar verskrik geword en haastig opgestaan; hy het sy raadsmanne toegespreek en gesê: Het ons nie drie manne geboeid binne-in die vuur gegooi nie? Hulle antwoord en sê aan die koning: Sekerlik, o koning!
Toe Nebukadnésar hulle in die vuur sien, merk hy op: “Die vierde lyk soos ’n goddelike wese.” Die uitdrukking “Seun van die gode” dui op iemand uit die geestelike dimensie. Dit beteken dat God werklik in die vuur saam met hulle was en teenwoordig geword het op die plek van hul gevaar. Dan 3:25 “Hy antwoord en sê: Kyk, ek sien vier manne los binne-in die vuur wandel sonder dat daar ‘n letsel aan hulle is; en die voorkoms van die vierde lyk soos dié van ‘n godeseun.“
Hy was baie verbaas toe hy in die vuuroond kyk en sien dat vier manne daarin loop sonder ‘n letsel aan hulle. Die vierde een was waarskynlik Christus voor sy menswording, maar Nebukadnésar het niks van Hom af geweet nie. Hy het wél gesien dat dit nie ‘n gewone mens was nie, en hom as ‘n seun van die gode beskryf. Die Here het beloof dat Hy altyd by en met die opregte lede van Israel sou wees, ook in hulle nood. Jes 43:2 “Wees nie bevrees nie, wat Ek het jou verlos… as jy deur vuur gaan, sal jy jou nie skroei nie, en die vlam sal jou nie brand nie. Want Ek is die Here jou God, die Heilige van Israel, jou Heiland”

Hierdie besondere daad van verlossing uit die brandende vuuroond het Nebukadnésar laat erken dat Israel se God, hoër en magtiger as die gode van Babilon is. Vroeër het Nebukadnésar nie so gedink
nie, want hy het Jerusalem ingeneem, die tempel gestroop en van die voorwerpe daarvan in die tempel van sy god, Mardoek, in Babilon gesit. Nou het hy egter gelas dat daar eerbied vir Israel se God moes wees. Nebukadnésar het steeds nie vir God as sý God aanvaar nie, hy het slegs erkenning aan Hom gegee vir die magtige daad van sy verlossing. Nebukadnésar het met sy selfverheffing, magsbeheptheid en die aanspraak op verering deur sy onderdane voortgegaan. Diep in sy hart moes hy egter geweet het dat hy nie in die regte verhouding met die almagtige God was nie. Ons kan baie leer uit die drie getroue Jode se weiering om kompromie te maak en voor ‘n afgodsbeeld neer te buig. Hulle handeling beklemtoon dat ware aanbidding net aan God behoort. Hulle gehoorsaamheid aan God is sterker as hul vrees vir die vuur; hulle sal net voor God buig, nooit voor ’n mens of ’n beeld nie. Dan 3:26 “Toe het Nebukadnésar nader gekom na die opening van die brandende vuuroond en daarop gesê: Sadrag, Mesag en Abednégo, knegte van die allerhoogste God, gaan uit en kom hier! Toe het Sadrag, Mesag en Abednégo uit die vuuroond uitgegaan.”
Binne die vuur gebeur drie wonderwerke, hulle was nie meer gebind nie, daar was geen reuk rook aan hulle nie en dieselfde vuur wat ander doodgemaak het, kon hulle nie skade aandoen nie. Met ander woorde; die vuur wat Nebukadnésar se mag moes bewys, het God se groter mag bevestig. Dan 3:27 – “Daarop het die landvoogde, die bevelhebbers en die goewerneurs en die raadsmanne van die koning vergader en aan daardie manne gesien dat die vuur geen mag oor hulle liggame gehad en die hare van hulle hoof nie geskroei het nie, en dat hulle mantels geen verandering ondergaan en die reuk van die vuur nie aan hulle gekom het nie.”
Hoekom die redding uit vuuroond vir die Chaldeërs vernederend was
Die Chaldeërs was beskou as die meesters in kennis van die toorkuns, astrologie en godsdienstige rituele. Hulle beroepe was gewoonlik sterrekykers, astroloë, towenaars en priesters. Die mense het van Chaldaea in Babilonië gekom en die meeste van hulle het uit hoër klas gevorm. Hulle rol was om die koning te adviseer en ook die godsdiens en toorkuns te handhaaf.
Die Babiloniërs het vuur as ’n simbool van goddelike geregtigheid gesien, en die son- en vuur-god Shamash aanbid en vuur gebruik in rituele en strafmetodes. Shamash is vereer as die god van geregtigheid, die god van lig en die god van openbaring. ’n Vuuroond was dikwels simbolies verbind met die son (’n plek van vuur, oordeel en goddelike straf). Die koning het aanvaar dat sy gode, insluitend die songod, die mag het om afgod-verwerping te straf deur vuur en het die vuuroond gebruik as ’n godsdienstige en politieke strafmiddel. Die drie jong Judeërs (Hananja, Mísael, Asárja) word uit die brandende vuuroond gered en dit was ’n direkte vernedering vir die Chaldeërs om drie redes:
- Die vuur was simbolies van hul gode en kon die drie manne nie vernietig nie Die Chaldeërs wou wys: “Julle God is niks voor ons gode nie.” Maar toe het die vuur hulle nie verbrand nie en slegs die boeie verbrand. Die vierde Persoon in die vuur (’n engel / Seun van God) het hulle beskerm. Dit wys die God van Israel oorheers hul songod en vuur-gode.
- Hulle deskundigheid en gesag is belaglik gemaak want die Chaldeërs was die koning se adviseurs, godsdienstige elite en die mense wat die koning aangespoor het om totale aanbidding te eis. Maar hulle het verkeerd voorspel, God se mag onderskat, en misluk om die koning se gesag te bevestig. Hulle is in die publiek verneder.
- Ná die wonderwerk word die drie word bevorder en nie die Chaldeërs nie. Dan 3:30 – “Toe het die koning Sadrag, Mesag en Abednégo voorspoedig laat wees in die provinsie Babel.” Die koning loof die God van Israel en verbied enigeen om teen hierdie God te praat. Die Chaldeërs, wat altyd jaloers was op die Judeërs se posisies, verloor nog meer invloed.
Die Chaldeërs, wat die songod en vuur as magte van goddelike oordeel vereer het, is verneder toe die God van Israel die drie Judeërs uit die vuuroond red ’n openbare bewys dat die Babiloniese gode geen mag het nie. Die finale vernedering was dat die koning eer die God van die slawe-volk bó die gode van die keiserryk.
Waar was Daniël?
Daniël word glad nie in daardie hoofstuk genoem nie. So, waar was Daniël was toe koning Nebukadnésar probeer het om sy vriende dood te maak? Die Skrif fokus uitsluitlik op die drie vriende, met geen direkte verwysing na Daniël se plek of handelinge nie. Die Bybel sê dit nie direk nie, maar hier is ’n paar waarskynlike verduidelikings wat Bybelkenners gee:
1. Amptelike Pligte Elders
Daniël het ’n baie hoë posisie gehad (Daniël 2:48 sê hy was “hoof oor die hele provinsie van Babel” en “hoof van al die wyse manne”). Dit beteken hy kon dalk vir ’n tyd op ’n koninklike sending of amptelike taak buite die stad gewees het toe Nebukadnésar die beeld laat oprig het.
Dan 2:48 “Toe het die koning Daniël verhef en hom baie, groot geskenke gegee en hom aangestel as heerser oor die hele provinsie Babel en as hoofowerste oor al die wyse manne van Babel.”
Daniël 2:29 vermeld dat Daniël in die koning se hof gebly het, terwyl sy vriende aangestel is om die sake van Babilon te bestuur. Sommige stel voor dat hy dalk op ’n administratiewe sending weg van die hoofstad was. Skrywers soos die Joodse geskiedkundige Josefus wys daarop dat hooggeplaaste amptenare dikwels deur die koning uitgestuur is om koninklike belange in verskillende dele van die ryk te verteenwoordig.
Dan 2:49 “En op versoek van Daniël het die koning Sadrag, Mesag en Abednégo aangestel oor die bestuur van die provinsie Babel, maar Daniël was in die paleis van die koning.”
2. Logistieke of Administratiewe Konflik
Die Skrif gee nie elke beweging van sy sentrale figure weer nie. Daniël, besig in die koninklike hof, kon eenvoudig nie by hierdie openbare inwyding teenwoordig wees nie as verskeie pligte of ’n bevel van die koning prioriteit geniet het, wat hom moontlik in die koninklike paleis of ’n ander plek tydens die gebeurtenis geplaas het.
Buite-skriftelike Bevestiging: Argeologiese bevindinge, soos Babiloniese administratiewe tablette, bevestig die historiese bestaan van hoë koninklike amptenare, bekend as “rab mag”, “satrap” en ander grade wat in Daniël genoem word (volgens. Daniël 3:2, vir beskrywings van amptenare). Sulke tablette beskryf uitgebreide provinsiale strukture wat maklik reis of spesiale opdragte sou vereis. Daarbenewens ondersteun die ontdekking van die Dooie See-rolle, wat fragmente van Daniël insluit, die vroeë oordrag van die teks met merkwaardige konsekwentheid. Hierdie manuskripte toon dat Daniël gerespekteer is en wyd versprei was, wat die idee versterk dat die opgetekende gebeure deur die ballingskap gemeenskap ernstig opgeneem is.
3. Hy was miskien in die paleis
Die beeld was opgerig op die Dura-vlakte (Daniël 3:1), wat waarskynlik buite Babel was. Daniël kon moontlik in die paleis besig gewees het en dus nie teenwoordig toe die bevel gegee is om te buig nie.
Dan 3:1 “KONING Nebukadnésar het ‘n beeld van goud gemaak; sy hoogte was sestig el, sy breedte ses el; hy het dit opgerig in die dal Dura, in die provinsie Babel.”
4. Vrystelling Weens Koninklike Guns
Daniël se status ná die uitleg van Nebukadnésar se droom in hoofstuk 2 was besonder hoog. Hy is bevorder tot ’n magsposisie en gerespekteer vir sy goddelike wysheid (Daniël 2:48 49). Dit is moontlik dat die koning vir Daniël van die toets van aanbidding vrygestel het uit hoflikheid, of dat hy eenvoudig nie dieselfde vereiste op Daniël geplaas het as op ander nie.
Dan 2:49 “En op versoek van Daniël het die koning Sadrag, Mesag en Abednégo aangestel oor die bestuur van die provinsie Babel, maar Daniël was in die paleis van die koning.”
5. Opsetlike Nadruk in die Verhaal
’n Ander siening dui daarop dat die klem in Daniël 3 spesifiek op die drie vriende gelê is. Die skrywer het doelbewus op hul beproewing gefokus om ’n bepaalde boodskap oor geloof onder vervolging oor te dra. Aangesien die Boek Daniël dikwels verskillende episodes van toetsing en redding vir God se dienaars uitlig, kan die uitsluiting van Daniël in hoofstuk 3 die individuele geloofsreis van Sadrach, Mesag en Abednégo beklemtoon.
OF
- Daniël het neergebuig
Daniël het, uit vrees vir teregstelling of om die koning te paai, voor die goue beeld gebuig.
Sou Daniël voor die koning se goue beeld neergebuig het?
Wat dink jy van die sesde moontlikheid? Hier is wat ek kon aflei uit die navorsing wat ek gedoen het oor Daniël.
Opsies 1 tot 4 is almal moontlik. Opsie 1 is die mees waarskynlikste of die mees aanneemlikste. Die waarskynlikste verklaring is dat Daniël weg was op ’n koninklike opdrag op die Dura-vlakte toe almal moes buig voor die goue beeld nie en gevolglik nie tydens die inwyding van die beeld teenwoordig was nie. Die moontlikhede kon ook wees dat hy met staatsake besig was, of omdat die fokus van die verhaal doelbewus op sy drie vriende was. Hoekom sê ek so?
Die Jode se toewyding aan die Torah (die vyf boeke van Moses, oftewel die Wet) is ’n kernaspek van hul geloof en kultuur. Die Torah bevat God se wette, gebooie, en riglyne vir regte lewe en aanbidding, en word beskou as die direkte openbaring van God aan sy volk. Die Jode was toegewyd aan die Torah. Elke Jood weet in elke greintjie van sy wese wat staan in Deut 6:4 “Hoor, Israel, die Here onse God is ‘n enige Here.” HULLE WEET DIT.
Jode wys hul toewyding op verskeie maniere:
- Daaglikse Studie en Bestudering: Baie Jode bestudeer die Torah elke dag, soms deur verskeie gedeeltes te lees en te bespreek. Hierdie studie help hulle om God se wil te verstaan en dit in hulle daaglikse lewe toe te pas.
- Gehoorsaamheid aan die Gebooie: Die Torah se wette dek alle aspekte van die lewe, van godsdienstige rituele tot etiese en sosiale gedrag. Die Jode se toewyding beteken dat hulle probeer om hierdie wette getrou te volg.
- Sabbat en Feeste: Die Torah lê spesifieke reëls vas vir die viering van Sabbat en Joodse feeste. Deur hierdie tradisies na te kom, toon die Jode hul eerbied en liefde vir die Torah.
- Onderwys aan Volgende Generasies: Die Torah beveel aan dat kinders van jongs af geleer word oor God en die wette. Hierdie oordrag van kennis en waardes van generasie tot generasie is ’n belangrike manier waarop die toewyding gehandhaaf word.
- Respek en Eerbied vir die Tekste: Die Torah-rolle word met groot sorg en eerbied hanteer. Hulle word nie net gelees nie, maar ook in sinagoge en by spesiale geleenthede plegtig gebruik. Die Jode se toewyding aan die Torah is allesomvattend, dit beïnvloed hul studie, gebede, etiese gedrag, en kultuur. Hierdie toewyding is nie bloot tradisie nie, maar ’n uitdrukking van hulle verbintenis aan God en hulle identiteit as ’n volk. Almal ken Eks 20:3 – “Jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie.”
As ek dit persoonlik moet aflei, sou ek sê dat ’n Jood NOOIT voor ’n afgodsbeeld sou neerval nie. Hy sou dit eenvoudig nooit doen nie.
Was Daniël en sy drie vriende lief vir die Torah?
- Daniël se besluit in Daniël 1:8
Daniël het hom voorgeneem om hom nie te verontreinig met die spys van die koning of met die wyn wat hy gedrink het nie. Dit wys dat hy baie toegewy aan God se wette was en met selfbeheersing besluit het om rein te bly volgens die Torah.
Dan 1:8-9 “En Daniël het hom voorgeneem om hom nie te verontreinig met die spys van die koning of met die wyn wat hy gedrink het nie; daarom het hy die owerste van die hofdienaars vergunning gevra dat hy hom nie hoef te verontreinig nie. En God het aan Daniël guns en barmhartigheid verleen by die owerste van die hofdienaars.”
2. Daniël se toewyding aan die Torah
In Daniël 6 waag hy sy lewe bloot deur te bid. As hy bereid was om te sterf vir sy toewyding aan gebed, is daar hoegenaamd geen manier dat hy opsetlik een van die Tien Gebooie sou oortree het nie.
Eks 20:4 “Jy mag vir jou geen gesnede beeld of enige gelykenis maak van wat bo in die hemel is, of van wat onder op die aarde is, of van wat in die waters onder die aarde is nie.” Daniël se karakter en
3. Hul standvastigheid teenoor wette van God
Dan 3:16-18 “Sadrag, Mesag en Abednégo het geantwoord en aan koning Nebukadnésar gesê: Ons ag dit nie nodig om u hierop ‘n antwoord te gee nie. As onse God wat ons dien, in staat is om ons te verlos, dan sal Hy ons uit die brandende vuuroond en uit u hand, o koning, verlos; maar so nie, laat dit u dan bekend wees, o koning, dat ons u gode nie sal dien nie en die goue beeld wat u opgerig het, nie sal aanbid nie.”
Sadrach, Mesag en Abednégo het geweier om voor die beeld te buig, selfs al het dit hulle lewe gekos. Dit toon hul volgehoue gehoorsaamheid aan God se wette, selfs onder groot druk.
4. Daniël se karakter in Daniël 6
Dan 6: 11 “En net toe Daniël verneem dat die bevelskrif geskrywe was, het hy in sy huis gegaan; en hy het in sy bo-kamer vensters gehad wat oop was in die rigting van Jerusalem, en hy het drie maal op ‘n dag op sy knieë geval en gebid en lofprysinge uitgespreek voor sy God, net soos hy tevore gedoen het.”
Daniël bid openlik tot God, al weet hy dit kan hom in die leeukuil laat beland. Dit wys dat hy sy verbintenis aan God en sy wette bo sy eie veiligheid plaas.
5. Algemene geloofsoortuiging en toewyding
In die Joodse kultuur en by Daniël se groep het die Torah ’n kernrol gespeel. Om voor ’n afgod te buig sou ’n direkte oortreding van die Torah wees. Gegewe hul vertroue in God en hul bereidheid om te ly vir hul geloof, kan ons aanneem dat hulle nie die beeld sou aanbid nie.
Wat kan ons hieruit aflei?
Daniël en sy vriende het ’n geskiedenis van toewyding aan God se wette, selfbeheersing, en standvastigheid in geloof. Hulle karakter en optrede toon dat hulle getrou aan die Torah sou bly en nooit ’n afgod sou aanbid nie. Daniël in sy hart voorgeneem om hom nie te verontreinig nie, en daaruit weet ons dat hy nooit so ’n blatante daad van goddeloosheid sou pleeg, soos om ’n valse god te aanbid, nie. Hulle vertrou God omdat Hy God is nie omdat Hy noodwendig hulle lewe gaan spaar nie. Hulle vertrou onvoorwaardelik, maak nie saak wat daarna gebeur nie en hulle het geweet hulle moet net getrou bly, ongeag die uitkoms. So, ons kan met redelike sekerheid sê dat Daniël en sy drie vriende se karakter getuig dat hulle lief was vir die Torah en daar nie ‘n manier was dat hulle voor koning Nebukadnésar se beeld sou buig nie. Hulle sou eerder doodgemaak word. Daarom is die antwoord doodeenvoudig NEE, hulle sal dit nie doen nie.
Hoe verskeie Bybelkommentare die afwesigheid van Daniël in Daniël 3 verklaar
Matthew Henry sê Daniël was waarskynlik nie teenwoordig toe die beeld opgerig is nie. Hy wys daarop dat Daniël ’n hoë amptenaar was, en moontlik in die koning se paleis of elders op amptelike plig was. Daarom het hy nie in die situasie beland waar hy moes kies om te buig of nie. Hy beklemtoon dat as Daniël wel daar was, hy beslis saam met sy vriende geweier sou het om te buig, want sy karakter in die res van die boek wys dat hy nooit sy geloof sou kompromitteer nie.
Jamieson, Fausset & Brown sê Daniël se afwesigheid is waarskynlik omdat hy op koninklike diensreis was. Sy hoë posisie as “hoof oor die hele provinsie van Babel” (Daniël 2:48) sou hom gereeld laat reis om sake namens die koning te hanteer. Sy afwesigheid is dus prakties verklaarbaar, nie teologies of moreel nie, dit was bloot sy werk.
Albert Barnes sê dit is opvallend dat Daniël nie genoem word nie, maar dat dit waarskynlik doelbewus is. Die Heilige Gees wou in hierdie hoofstuk die geloof van die drie vriende beklemtoon. Hy sê Daniël se eie toets van geloof kom later in die leeukuil (hoofstuk 6). Hy glo nie Daniël was ongehoorsaam of bang nie, sy stilte is net omdat die verhaal ’n ander tema wou beklemtoon: God se beskerming van dié wat Hom vrees.
John Gill’s Exposition of the Entire Bible sê Daniël kon “in ’n ander deel van die ryk” gewees het, of hy was “in ’n hoë posisie” wat hom vrygestel het van die opdrag om te buig, of, die gebeurtenis het plaasgevind terwyl Daniël siek of besig was met staatsake. Hy beklemtoon dat niks in die teks dui op ontrouheid aan God van Daniël se kant nie.
Israel se voortdurende toets
In elke geslag is daar altyd iemand wat nie sal ingee nie. Van Adam af tot nou het God altyd ’n man of vrou gehad wat getrou gebly het, al was hulle alleen.
Die Jode het deur die geskiedenis altyd invloedryke en hoë posisies beklee. Dit is ’n patroon wat tot vandag voortduur.
Die feit dat hierdie verhaal opgeteken is, wys dat die Jode deur 2500 jaar lank versoek sou word om die gode van die nasies te aanbid. Daniël 3 dien as ’n lewensles vir elke Jood: “Ek sal nie die gode van die nasies dien nie.”
Eindtydse toepassing

In die verhale van die vurige oond en Daniël in die leeukuil sien ons ’n voorteken van die redding wat
Christus bring. Die drie manne verklaar dat God ’n reddende God is wat ’n uitweg uit die vuur kan voorsien (Dan 3:17). Op dieselfde manier het God, deur Jesus te stuur om vir ons sondes te sterf, ’n uitkoms voorsien van die vuur van die hel (1 Pet 3:18).
Daar is ‘n belangrike profetiese toepassing van die gebeurtenisse in die Babiloniese ryk op die eindtyd. Vorms van rebellie teen God is hier gevestig wat almal skadubeelde van die groot eindtydse rebel, die Antichris, se optrede is. Die Babiloniese ryk was die eerste en belangrikste wêreldryk waardeur die tye van die nasies tydens die Babiloniese ballingskap van Israel ingelui is. Dit het verskeie heidense tradisies gevestig wat deur die ander wêreldryke nagevolg is. Al hierdie beginsels en gebruike sal in ‘n oortreffende mate tydens die eindtydse wêreldryk van die Antichris ingestel en afgedwing word
Profetiese verbintenis – Die geskiedenis herhaal homself
Die verhaal van Daniël 3 voorspel wat in die eindtyd weer gaan gebeur: Nebukadnésar en die Antichris = parallelle
- Die eerste heidense koning bou ’n beeld van goud.
- Die laaste heidense koning (Antichris) sal weer ’n beeld oprig (Open 13).
- Die Antichris kry mag soos Nebukadnésar (Open 13:7, 14–15)
- Die beeld word gegee om gees te hê en mense wat nie aanbid nie, word gedood. Presies soos in Daniël 3.
- Die beeld word opgerig, na die wegraping, 3½ jaar tydens die verdrukking.
- Mense moet dit aanbid of hulle sal gedood word (Open 14:11).
- Die siele van die martelare wat onthoof is omdat hulle nie die beeld aanbid het nie is weer dieselfde patroon as 2500 jaar tevore (Open 20:4)
Die les
Ware geloof is om God te dien sonder ’n waarborg, net omdat Hy waardig is. Getrouheid aan die Here word nie bepaal deur uitkoms nie, maar deur oortuiging. God is teenwoordig in die vuur, nie net buite dit nie. Sy redding is volkome, en niemand kan Sy plan keer nie.
Daar is hoop in die vuur want God self is daar. Die koning sien die vierde man en besef: “Knegte van die Allerhoogste God!” en erken God se oppergesag.
Ons moet altyd opkom vir wat reg is. God is groter as enige straf wat oor ons mag kom. Of Hy kies om ons te red of nie, Hy is altyd waardig om vertrou te word. God weet wat die beste is, en Hy eer dié wat Hom vertrou en gehoorsaam. God het ’n plan, en Sy plan strek tot in die fynste besonderhede. God weet van die toekoms en is in beheer van alles. Wat God voorspel het, het waar geword presies soos Hy dit gesê het. Daarom moet ons glo en vertrou dat die dinge wat Hy vir die toekoms voorspel het, eendag presies sal gebeur soos Hy dit verklaar het.
Selfs wanneer Daniël nie op die toneel is nie, werk God deur sy vriende om Sy krag en beskerming te wys. Daniël se invloed en voorbeeld was waarskynlik reeds so sterk dat sy vriende kon standhou in geloof, al was hy nie daar nie.
Daniël 3 is nie net geskiedenis nie, dit is profesie, ‘n voorbeeld, waarskuwing en bemoediging. God se volk word altyd deur nasies versoek om te buig, maar die getroues sal nooit buig nie. God is teenwoordig in die vuur, nie net daar buite nie. Beelde vergaan, maar geloof in die Allerhoogste God bly VIR EWIG staan.
Die karakter van God wat ons baie duidelik in Daniël sien, is dat Hy soewerein is. Dit beteken eenvoudig dat Hy die Gebieder is wat die hoogste gesag beklee, met ander woorde, Hy is in beheer.
Bibliografie
- Persoonlike opinie
- Ebible.com
- Pastorrobin.com: https://pastorrobin.com/2010/12/10/where-was-daniel/
- Raymond Lombard
- https://www.gotquestions.org/Book-of-Daniel.html
- Bybelsool.com
- Biblehub.com
- Proff. Walvoord en Zuck (The Bible Knowledge Commentary)
- Joyce Baldwin — Daniel (Tyndale Old Testament Commentaries)
- John Goldingay — Daniel (Word Biblical Commentary)
- Tremper Longman III — Daniel (NIV Application Commentary)
- Stephen Miller — Daniel (New American Commentary)
- Andrew Hill — Daniel (The Expositor’s Bible Commentary)
- Sinclair Ferguson — Daniel (Communicator’s Commentary)
- Gleason Archer — Daniel (in The Bible Commentary)
- Ernest C. Lucas — Daniel (Apollos Old Testament Commentary)
- John J. Collins — Daniel (Hermeneia Commentary Series)
- The Ancient Near East — James B. Pritchard
- Life and Thought in the Ancient Near East — Louis Levine
- Mesopotamian Religious Texts and Rituals — A.R. George
Nagevors en opgesom deur Salóme Strydom November 2025
